Die kleur van God
Die opskrif is per implikasie swaar gelaai
met emosie en politiek. Daarom wil ek sommer heel in die begin voor
enige verkiesingsopportunis, my kaap, my bona fides uitspel. Hier is
geen politieke motiewe nie.
In ‘n klaskamer vra ‘n kind, onskuldig, maar hoe lyk God? Wat se kleur
is Hy? Kyk, ‘n kind dink gelukkig in ander raamwerke as ons wat nou al
so gekondisioneer is deur ons samelewing. Vir ‘n kind is dit ‘n
doodnormale vraag, ‘n kennis vraag. Vir ons is dit ‘n hoogs politieke
vraag, en eintlik behoort dit nie so te wees nie. Die vraag vra eintlik
na die wese van God. In die teologie praat ons van die ontologiese
vraag. Die vraag vra na hoe moet ons God verstaan. Dit is die eeuoue
vraag na wie is God en hoe het Hy tot stand gekom. Onmiddelik sal u nou
verstaan ons is op sulke dun ys want niemand kan en wil die vraag
beantwoord nie. Tog, as mens, het ons die behoefte en nuuskierigheid om
te weet en te verstaan, want ons aanbid Hom.
Is Hy dan net pure Gees of is Hy vlees? Hoe het Hy ontstaan? Ek het
groot simpatie met mense wat na al die uitsprake doodeenvoudig sê: “Ek
glo nie.” Hoe kan ek in iets glo wat ek nie kan sien of beter nog, kan
verwoord nie. Die kuns van “om te glo”, lê natuurlik daarin dat jy
ontdek dat God se Gees jou laat glo. Hy is die een wat geloof bewerk en
dit is nie jou energie of oortuigings wat jou laat glo nie. Die feit
van geloof lê daarin dat geloof per sé, ‘n wonderwerk is. “Die grootste
hiervan is die gawe om Hom lief te hê.” 1 Kor 13 vers 13. Dit kom van
Bo. Dit bly ‘n gawe.
Dit verklaar natuurlik nie die wese van die Godheid nie en ek dink nie
ons moet God probeer verstaan of uitredeneer nie. Die antwoord lê
waarskynlik, vir my altans, in die vleeswording van Jesus. Dit is hoe
God lyk en optree. In Christus word God sigbaar en leer God ons hoe om
onvoorwaardelik lief te hê en om te gee. In die vleis (vergewe my
woordgebruik) van Christus ruik ons Hom, voel ons Hom en leer ons God se
emosies ken. Hy was een wat kon lag en huil. Hy was honger en dors.
Hy was angstig en depressief (Sy dissipels slaap terwyl Hy bid). Hy kon
die lewe geniet (bruilof in Kana te Galilia) en wou soms net alleen
wees. In Jesus is God regtig soos God is. En dis waarom ek glo
(persoonlik) want dan maak geloof sin en kry geloof hande en voete. My
hele bediening gaan vir my daaroor dat ek aan mense kan raak soos Hy aan
my elke dag raak (deur mense). Ons is immers na Sy beeld geskape.
Iets van my, in my, is ‘n stukkie Godheid, alhoewel verdorwe, verwoes
deur die sonde. Dit is hoekom ons gelowiges is wat heelmaking van God
ontvang het, sodat ons mense kan wees wat die stukkende wêreld en mense
moet optel en heelmaak. As ons dit weer ontdek het, sal mense nie glo
omdat ons hulle oortuig het van God nie, maar omdat hulle die stukkie
Godheid in ons raakgesien het.
“Watter kleur is God, juffrou?” Sy het lank gedink en toe kom dit, Hy is
die kleur van water. Kleurloos deursigtig, lawend, vertroostend. Jy
kan Hom nie in jou hand vashou nie, Hy glip deur ons vingers en gedagtes
en gaan lê waar jy gedink het daar is geen lêplek nie. Dit is hoekom
jy glo. Jy kan na al die redenasies net een belydenis hê: “Ek kan nie
sonder Hom leef nie.”
Hy is die kleur van water.
Groete van Huis tot huis
Piet Marais
0832590023
|
No comments:
Post a Comment